5 October 2011

My mede-onnies

Daar is twee Koreaanse onderwyser-sussies by my skool - Lily en Gail. Ek en Gail deel per toeval dieselfde geboortedag en ons kom goed oor die weg.
Hulle trek verskriklik stylvol aan, het baie goeie smaak en hou daarvan om 'n goeie tyd te hê. Hulle is ook nie skaam om geld uit te gee nie. Ek help hulle met hul Engelse uitspraak en hulle help my om 'n paar terme in Koreaans aan te leer.

My mede-Suid-Afrikaner, Jax (maar in ons ou Afrikaanse kringe is sy Jacarine) is nou al vir twee jaar by die skool en kom oorspronklik van Gauteng af. Sy gaan in Januarie haar kontrak beëindig en dan terugkeer Suid-Afrika toe. Sy was vier jaar laas in die moederland!!
Sy het onlangs 'n nuwe oond gekry en bak 'n hond uit 'n bos uit - beskuit, piesangbrood, malvapoeding...Ek dink dis tyd dat sy terug gaan Suid-Afrika toe en haar honger stil of dalk 'n tuisnywerheid oopmaak.

Anna  het saam met my op 4 Oktober begin. Sy is 'n Korean-Amerikaner van Seattle af. Sy het nie 'n tipiese Amerikaanse aksent nie. Haar vertalingsvermoë en my GPS-vermoë maak ons 'n goeie span. Sy is lief vir slaap, baie stadig, loop soos 'n ou gevrekte tannie (ek wil net haar skouers vir haar regtrek) en ongelooflik onoplettend. Sy loop stadiger as die pas waaraan ek gewoond is en ek kan sien dat ek nog baie hare hieroor met haar gaan kloof. 

Brian is my "werkgewer". Hy kom oorspronklik van Michigan af en het 'n swaar Amerikaanse aksent. Ek kan sien dat hy 'n regte waardering vir die kinders het, maar hy stress verskriklik en ek reageer nie goed as my werkgewer stress nie. Hopelik sal hy kan kalmeer oor die volgende paar weke, want dit maak die werksomgewing baie stressvol. 
Brian en sy vrou, Jeon ('n Koreaan), besit die akademie waar ek skool gee. Hulle is nou al vyf jaar getroud, maar moenie dink dat hy nou al Koreaans kan praat nie. Dis eintlik baie hartseer - ek dink nie hy is baie tegemoetkomend teenoor die Koreane en hulle kultuur nie. 

Beide Brian en Jax was jare laas by dis huis. Wat ek afgelei het deur met hulle te praat is dat hulle nie fantastiese verhoudings met hulle families in hul tuislande het nie. Ek dink dit speel definitief 'n rol daarin wanneer mense besluit om vir so lank ver weg van hul hartlande te werk en nooit eens te gaan kuier nie.

Dit is volksvreemd vir my, want ek kan myself nie indink dat ek my gesin/vriende vir jare lank nie gaan sien nie!!!

Korea is definitief net 'n interim-move vir my. Ek sal altyd 'n Afrikaan wees. 

1 comment:

quietriotgirl said...

ek geniet nou vreeslik jou blog terwyl ek vir jou op skype wag. ek is bly jy gaan darm nie vir JARE bly nie!! en onthou (as jy so lekker skinner oor jou mense daar) dis baie maklik om op chrome net 'translate' bo aan die blad te druk dan lees hul als ;) xx