30 November 2011

Gyeongju - die muurlose museum

Sondagoggend het ek vroeg en verlee opgestaan omdat nie een van my nuwe Ulsanite buddies saam met my Gyeongju toe sou kon gaan nie. Ek het geweet waarheen ek wil gaan, maar nie geweet hoe om daar uit te kom nie.

Gyeongju is "the meeting place the scent of culture time to surpass". Hehe. Dis nou wat voorop die amptelike brosjure geskryf staan.

Hierdie area was die setel van die Shilla ryk vir 992 jaar. Dit is besaai met kulturele wonders en UNESCO wereld erfenis gebiede asook 'n UNESCO kulturele erfenis stad (tydens die Shilla ryk bekend as Seorabeol). Gyeongju staan bekend as die museum sonder mure. 

 Getting lost on my journey is half of the fun.

Ek het op die 307 bus gespring na die Samsandong distrik in Ulsan...met my Lonely Planet in my regterhand het ek in Starbucks ingewals en 'n grande chai latte bestel. YUM! Ek het mos nou die multinational ondersteun en my kans gesien om die barista's te vra vir aanwysings tot die Taewagang-rivier-treinstasie in Samsandong...Wat klaarblyklik in die omgewing versteek is (net op in die pad vanaf Starbucks, but little did I know).
Daar was baie "time to sign" en geskribbel op servette...ek het toe maar met my monster chai en servet-kaart in die pad afgestap.

#1 wonderwerk
'n Koreaanse meisie wat na my in Starbucks ingestap het, het by die barista's van my dilemma gehoor en agterna gehardloop. Sy het haar kerel, sy Engelse naam is JD, gevra om uit die kar te klim en my te help. Dit was nie lank nie of hulle het my in hulle silwersplinternuwe Hyundai ingelaai (die plastiek nog oorgetrek oor die agterste sitplek - en hier sit ek met my lomp hande en grande chai..eeeeeeek) en hulle het my by die treinstasie afgelaai!!!


#2 wonderwerk
Ek het nie my melkerige drankie een keer op die nuwe sitplekke gemors nie. Phew!

Met vier minute oor het ek vir my 'n treintieket na Gyeongju gekoop vir 'n skamele W2400. Dit het my 30 minute geneem om daar uit te kom. Nari en haar broer Rudy (hulle Engelse name) het my op die trein bevriend en vergesel tot in Gyeongju. Buitekant die Gyeongju treinstasie was daar 'n inligtingkantoor. Hierdie stad is op sy kop!!! Die inligtingskantoor meisies se Engels is baie goed, die brosjures is in Engels en hulle is baie behulpsaam.

Ek het flink op bus 11 gespring en natuurlik te vroeg afgespring...Daar sit ek toe in 'n vreemde dorp-stad terwyl ek wag vir my bus om weer sy opwagting te maak. Vinnig - voordat die uit-tand oom my raakspoeg.

Bulgoksa temple from a bird's eye view
Vier van hierdie figure verwelkom jou by die ingang van die tempel...ek het ongelukkig geen idee wat hulle simboliseer nie!
Monnikke by Bulguksa tempel
 Bulguksa tempel het 'n steil pad waarteen jy op stap met die hajima's wat hulle kos/aandenkings/bondegi sop (insek sop - vomeer...dit stink en ek het my beste gedoen om nie my gesig te trek nie) verkoop. Ek was gelukkig op my eie so hulle het nie kans gesien om my te lok nie.
Bondegi!

Die Bulguksa temple is in 751 gebou en teen 774 voltooi. Hierdie tempel was sentraal in die rol van Buddhisme tydens die Shilla ryk. Dit is ‘n baie lang storie, maar tesame met die Seokguramgrotto simboliseer hulle reinkarnasie waarin Buddhiste glo. 
In die 16e eeu is die hele tempel deur die Japannese vernietig toe dit afgebrand is. Die Bulguksa tempel is ten volle herstel met navorsing. Gyeongju het in 57 VC die hoofstad van die Shilla ryk geword en dit het so gebly vir die volgende 1000 jaar.

Daar woon nogsteeds monnikke op die Bulguksa tempel perseel. Hulle word natuurlik toegelaat in die tempels waar hulle bid. Hulle slaan ook drie keer 'n dag die groot klok by die tempel. Elke keer slaan hulle die klok 33 keer omdat dit die 33 hemele waarin hulle glo simboliseer. 
Die klipmure van die tempel agter my is die stene van die oorspronklike tempel - dit is 'n paar eeue gelede deur die Japannese geplunder. Those Japs.
Hierdie bosvark is een van die weggesteekte beelde onder die dakpanele van die tempel. Dis klaarblyklik good luck om aan die varkie te vryf... Op die foto is ons twee in diep gesprek en hy vertel my dat ek groete vir sy niggies&nefies in die Groot Karoo moet stuur.
Dis deksels moeilik om met my kiekiekakker op my selfoon kiekies te neem van my en Bulgoksa tempel...so kry ek gewoonlik net die kiekiekakker-mal-Koreane in my kiekies.






Die wens-steen tuin is langsaan een van die tempels in Bulguksa en daar kan jy van die ou dakteels stene opmekaar pak en 'n wens maak. Wanneer jou stene inmekaar tuimel beteken dit dat jou wens gaan waar word en dat iemand anders jou stene kan gebruik om hulle drome mee te bou.

Die wens-steen tuin. Ek sien my wens-stene, kan jy dit sien?
Daeungjeon Tempel- hierdie tempel is bo-aan die twee brue met die 33 trappe gelee. Dit is waar die hoof Buddhistiese monument is. Dit word ook beskou as 'n "skip" na die hiernamaals met kleurvolle geverfde sketse wat dit aan die binnekant van die tempel uitbeeld.

As jy deur hierdie toring staar kan jy die Buddha se gesig sien.
Die Pagoda's van Bulguksa is anders as ander tempels s'n omdat hulle verskil van mekaar. Die twee pagoda's simboliseer twee Buddha's ( Dabo Yeorae Buddha en Seokga Yeorae Buddha) wat langsaan mekaar bid.
Die Dabotap Pagoda
Gratis Engelse toere word orals aangebied en ek het onmiddellik gaan aanklop by die inligtingstoonbank. Ek moes 'n uur wag omdat dit die toergids se etensuur was. Ek en die Beatles (ek het hulle saam genooi vir die dag - sien my hoodie) het toe lekker soos koggelmanners in die son gesit en wag.
Jerry (die Koreaanse toergids se Engelse naam) het my vir die volgende uur regoor die tempel gebied geneem en so baie geskiedenis met my gedeel. Haar Engels is verstommend goed - sy is eintlik 'n rekenaar ingenieur (en sy werk nog saans as een), maar sy het so verlief geraak op Bulguksa 5 jaar gelede dat sy nou daar werk.

Bulguksa tempel is met 'n spesifieke kleurskema geverf - rooi en blou. Al die geboue op die perseel is gedetailleerd versier en is in die kleurskema geverf wat tipies van die Shilla ryk is. 


Die tempels is versier met drake en fenikse. Die drake is vir beskerming en die fenikse simboliseer reinkarnasie.

Seokguramgrotto
Seokguramgrotto was die tweede plek wat ek die dag besoek het. Dit was amper 'n kilometer se stap na die Buddha toe. Dit was 'n kronkelende grondpad in 'n Koreaanse woud en met die vars lug het ek gevoel asof ek ontsnap vanaf Ulsan se besoedeling (amper so erg soos Witbank!).
Seokguramgrotto is 'n klip tempel wat gebou is in met 'n koepelvormige dak.
Bonjonbul is die hoof aantrekkingskrag wat Koreane lok na die plek. Bonjonbul is uit wit graniet gekerf. Dit is die Buddha in die lotus posisie. (Ek het per ongeluk vergeet om vooroor te buig en die Buddha te groet - ek hoop nie enige iemand het my gesien nie!).

Fotografie van die Buddha word nie toegelaat nie so ek het die kiekie van die internet geroof.
Nou 'n bietjie inligting oor die Buddha: Die wit graniet laat die Buddha groter lyk as wat dit regtig is; Buddha's se oe is altyd amper-toe omdat hulle in diep meditasie verkeer; Buddha's se ore is altyd so groot omdat hulle na die wereld/mense se sorge moet luister; Buddha's se koppe is altyd uit proporsie met hul lywe; Die sirkel agter die Buddha se kop is so gebou dat dit 'n "optical illusion" vorm wat veroorsaak dat jy altyd na die Buddha se kop wil staar. Those sneaky monks.

Gyeongju (klink soos "Key-ong-juu") het so baie om te sien en te doen dat ek sekerlik in twee weke sal terug gaan. Daar is onder andere 'n "temple-stay" toer waarin ek baie belangstel.

1 comment:

Harold Uberstein said...

al wat vir my goed lyk, is die beatles hemp wat jy in een van die fotos dra