In die algemeen is die Koreaanse base van skole verskriklik uitmergelend streng. Selfs my werkgewers is rigied en verwag dat ek die kinders moet smoor met hulle/Korea se militaristiese idees van onderwys sodat hulle deel kan word van die hoogste tiener selfmoord-statistiek ter wereld.
Hier word dit byvoorbeeld glad nie geduld dat die kinders met hulle uitveers, potlode of stickers in klastyd speel nie. Dit moet onmiddellik afgeneem word omdat dit 'n teken is dat die kinders nie aandagtig luister nie.
Wat Korea en my werkgewers nie van kinders wil verstaan nie - is dat kinders kinders sal wees net so ver wat jy hulle toelaat om kinders te wees.
Dit is hoe Korea boksie-mense-met-tonnelvisie grootmaak wat sekerlik sielsongelukkig in die stroom swem of selfmoord pleeg op 'n jong ouderdom.
My werkgewers is bekommerd dat die kinders in my blok dink dat ek die "softy" onderwyser is. As "softy" impliseer dat ek die behoeftes van die kinders bo die skool s'n stel en hulle soos individue probeer hanteer aanvaar ek die titel met trots. En ek twyfel dat die skool my sal afdank omdat ek nie so harteloos soos hulle is nie, want die kinders vir wie ek klas gee presteer desondanks die feit dat ek hulle nie elke dag laat huil nie.
Ek wens net ek kan die groot CCTV oog in die hoek van elke klaskamer uitgrou. Dit is klaarblyklik daar sodat die ouers (hoofsaaklik die histeriese tuisteskepper ma's wat niks beter het om met hulle tyd te doen as om hulle kinders te beheer nie) kan kom kyk wat "hulle kinders" in die skool doen.
Dit is egter ook vir die mede-eienaar van die skool sodat sy kan spioeneer op die onnies en enige swak gedrag of tekens van individualisme kan smoor.
Hierdie plek laat my skool loopbaan soos 'n utopie klink. Dink net hoe baie vryheid het ons gehad as kinders...
No comments:
Post a Comment