28 September 2011

My binnelandse vlug oppad na die buiteland

Sondag 27 September was 'n warboel van emosies - opgewondenheid en onmeetbare vrees. Asook die dag van my ouers se huweliksherdenking. Geluk pa en ma!!!

Daar sit ek en my gesin toe in die Wimpy by Kaapstad Internasionale lughawe - 'n Wimpy koffie vir oulaas.

My maag het kolke gedraai en ek het probeer om die krane toe te draai, maar toe ek my gesin moes groet het die krane spontaan oopgespring en ek het lekker gehuil voordat die ystertor my opgepik het.
 
Op die binnelandse vlug oppad na Johannesburg, het ek by my piepklein venstertjie uitgetuur. Die Suid-Afrikaanse grondpaaie het soos duisendpote oor my hart gekruip, die landerye het ek vir oulaas met my vinger ingekleur en ek het saggies gehuil.

Dit het my hart deurmekaar gemaak dat ek al die bekende, die mooi en die lelik nou moes verruil vir die onbekende...


Op O.R.Tambo was dit 'n miernes van mense. By CNA het ek gestop en my bultende rugsak verder gevoer met 'n SARIE kos, SARIE en SARIE blokkieraaisel (ek lees nooit Saries nie, maar sy is 'n goeie vriendin in 'n vreemde plek).
Ek het ook tyd gemaak om 'n RWC2011 serp vir my rugsak te voer. (Nothing unites like the green and gold!)

Salig onbewus van die drama wat vir my wag.

Geen buitelandse trip is volmaak sonder 'n bietjie last-minute opwinding nie. So het ek toe amper my Qatar vlug na Doha verpas. Die simpel #(*%(* vrou by die boarding gate wou my nie toelaat nie omdat my aanlyn check-in nie die streepkode gehad het nie. Soos ek vroeër gesê het - salig onbewus.

So het ek myself sat gehardloop van Pontias na Pilatus. 'n Vriendelike Qatar personeellid (Ndobongo) en boarding-gate-wag het my te hulp gesnel na my herhaaldelike "Please help me" hulpkrete. 
Saam het ons drie deur die donker gange van OR Tambo gehardloop, oor barriers gespring, deur afskortings geklim, oor die sekuriteit gepaalspring totdat ek veilig die Qatar boarding gate gesien het, asook vlieënier Morne wat vir my gewag het. (bloos). Ek was sopnat gesweet en my knieë was sagter as low-cal jellie, maar ek was so verlig dat ek die vlug gehaal het.

Met al hierdie drama-drama-drama het ek dalk misluk om my Suid-Afrikaanse foon op 'roaming' te stel asook om ordentlik vir almal te groet via 'n selfoon rooksein. Verskoon dit, maar as julle my op daardie oomblik sou kon sien weet ek dat julle verstaan.

Die Qatar personeel het my so jammer gekry (hulle kon my voetstappe van ver af hoor aankom) dat hulle vir my verwelkom het met 'n groot beker water.

















No comments: