29 September 2011

En toe scam hulle my in my eie hartland

Laas week was ek in al die banke in Ulsan, want ek moes 'n globale ATM opspoor.

Bank #5 was die gelukkige wenner.

**dieng dieng dieng**

Ongelukkig wou my Mastercard debietkaart nie laas naweek werk nie.

Soos Koos Kombuis sou sê: “Toe sê die autobank vir my: Jy’t fokol geld”. 

Ai ook Koos, ons sou lekker kon soju-drink in my kombuis-kamer na die hele affêre.

Ek het volledig navorsing gedoen oor die voordele/nadele van die gebruik van my debietkaart voordat ek S-A verlaat het, maar was verstom dat dit nie verder wou werk nie.
Maandag 3 Oktober was 'n publieke vakansie dag in Korea gewees so ek moes toe tot Dinsdag wag om uit te vind hoekom my kaart nie wou werk nie.

Dinsdag was die vrou by die bank nie baie behulpsaam nie (wel - sy het in Koreaans gepraat en ek het in Engels verstaan) en ek het dadelik besluit om my ma in Suid-Afrika te kontak.

(It's a bird, it's a plane...no it's the Strauss family to the rescue).

Raai-raai wat het toe met my gebeur??

My kaart is gescam iewers in Suid-Afrika. Ek was woedend gewees toe ek dit uitvind!!!Ek is besig om ernstig vir OR Tambo te verdink en ek het reguit in daardie leeukuil ingestap.

Murphey jou belhamel!!!!

Watter lesse het ek hierdeur geleer wat julle moet toepas???? Moenie op Suid-Afrikaanse of op Afrika lughawe last-minute inkopies doen nie. MOENIE!

Gelukkig het my ma en Tobias sommer tjop-tjop (ai mis ek nie nou 'n Karoo tjoppie nie) 'n oplossing gekry.
Geld was vir my oorgedra via moneygram. Dit is 'n uistekende stelsel. Al wat jy benodig is jou paspoort en geduld, want dit neem 'n tydjie om die geld uit die bank uit te kry (afhangende van hulle Engelse vaardigheid), maar dit is die moeite werd.
Ek het heerlike sojaboon lekkertjies by die bankier gesuig terwyl ek vir hom gewag het om vir my die geld te gee. Dit was sy eerste werk gewees en toe wals hierdie Suid-Afrikaner by sy bank in en vra hom om vir haar geld te gee wat oorgeplaas is vanaf Suid-Afrika. Daar was later drie mense agter die toonbank wat gehelp het, maar ek het daar uitgestap met my won en 'n nuwe liefde vir sojaboon lekkergoed. 

No comments: