30 September 2011

My stukkie Afrika in Korea

My home away from home.


My woonstel is 'n eenkamer-woonstel met lugverkoeling en ondervloerse verhitting (ondol). Dit werk met warmwater so as ek moet dit manually stel wanneer ek my woonstel of my water wil verhit.

My kombersie van Suid-Afrika (dankie Essa!) en my teddie (waarvan Jack al die een oog en neus afgebyt het!) hou my elke aand warm. 

Kom ons begin by die begin - my voordeur. Wat eintlik 'n magnetiese advertensiebord is omdat al wat 'n restaurant is gedurig hulle advertensies op my deur plak (sien foto's). Ek het nou al opgehou om die advertensies te verwyder, want dan plak die aasvoëls-hulle net nog op my voordeur.

Ek is baie verlig dat my woonstel silwerskoon was toe ek hier aangekom het. My ma het vir my Addis furniture wipes present gegee voordat ek gevlieg het - so ek kan hulle nou spaarsamig gebruik.

Daar is vier verdiepings in my woonstel gebou en ek bly op die tweede vloer. Geen gebou wat die wolke kielie nie en ek is verlig daaroor omdat ek bang was dat ek dalk op die 18e vloer moes bly en dat daar geen hysbak sou wees nie! Hieronder is die kiekies van my woonstelblok en aan die regterkant van my woonstelblok is iemand se huis. Dit is 'n baie residensiële area.


Al my elektroniese gadgets is splinternuut - ek moes die verpakking nog van my televisie verwyder. Ek het 'n mikrogolf, yskas, wasmasjien, TV en 2 stoof gasplaat oondjie.

Daar kom ook nou en dan 'n ou tannie wat die gas in die woonstel kom check. Ek weet nie presies wat sy doen nie, want sy is Koreaans en ek is net 'n alien in die vreemde land.

Daar is geen stoof in my woonstel nie, maar ek dink dat ek binnekort een by 'n mede-onnie by my skool sal kan oorkoop. Hoera!!! Dan sal ek Landi se beroemde pampoentert kan bak!
My wasmasjien - die instruksies is alles in Koreans (surprise surprise). En dit gebruik slegs koue water:-(
My matras is egter so hard soos die vloer...byna. Dis 'n Koreaanse-ding omdat die Koreane gewoonlik op die vloer slaap is die matrasse nou ook redelik hard. Ek is stelselmatig besig om gewoond daaraan te raak.


My badkamer is ook letterlik net een kamer. Met ander woorde daar is geen afskortings nie - my vloer en toilet word met ander woorde elke dag gemop nadat ek gestort het!


Dit is 'n een-kamer woonstel met 'n klein balkon waar my wasmasjien, droograk (dis teen die dak en ek kan dit aftrek) en algemene "stoor area" is. 

My stortkop en my wasbak deel ook 'n kraan - ek vergeet gedurig om die kraan toe te draai so wanneer ek my tande wil borsel stort my rug. Hoeveel keer ek nou al my trui moes ophang is onskatbaar!!

My plakkies kruip hier onder by die deur wag. Ek stort nooit sonder plakkies nie - ek is bang vir Koreaanse ietermagoggas. 

My woonstel is bar soos ‘n plaas wat jarre laas reën gevoel of gesien het, maar my meubel-ekspedisie moet nog begin. My TV-kas is reeds ‘n vonds wat ek op die straat gevind het. Dit was uitgegooi vir rommel. “Ag nee wat” – ‘n boerin maak mos ‘n plan. Een boks vir ‘n stut later besit ek nou ‘n TV-kas.

Ek het ook 'n buurman wat gereeld daarvan hou om spontaan te begin sing in Koreaans. Of moet ek dit eerder skree noem? Ek kry hom terug deur kliphard my Jack Parow musiek te speel. Dit smoor hom gewoonlik na 'n tydjie. 









No comments: