30 September 2011

My stukkie Afrika in Korea

My home away from home.


My woonstel is 'n eenkamer-woonstel met lugverkoeling en ondervloerse verhitting (ondol). Dit werk met warmwater so as ek moet dit manually stel wanneer ek my woonstel of my water wil verhit.

My kombersie van Suid-Afrika (dankie Essa!) en my teddie (waarvan Jack al die een oog en neus afgebyt het!) hou my elke aand warm. 

Kom ons begin by die begin - my voordeur. Wat eintlik 'n magnetiese advertensiebord is omdat al wat 'n restaurant is gedurig hulle advertensies op my deur plak (sien foto's). Ek het nou al opgehou om die advertensies te verwyder, want dan plak die aasvoëls-hulle net nog op my voordeur.

Ek is baie verlig dat my woonstel silwerskoon was toe ek hier aangekom het. My ma het vir my Addis furniture wipes present gegee voordat ek gevlieg het - so ek kan hulle nou spaarsamig gebruik.

Daar is vier verdiepings in my woonstel gebou en ek bly op die tweede vloer. Geen gebou wat die wolke kielie nie en ek is verlig daaroor omdat ek bang was dat ek dalk op die 18e vloer moes bly en dat daar geen hysbak sou wees nie! Hieronder is die kiekies van my woonstelblok en aan die regterkant van my woonstelblok is iemand se huis. Dit is 'n baie residensiële area.


Al my elektroniese gadgets is splinternuut - ek moes die verpakking nog van my televisie verwyder. Ek het 'n mikrogolf, yskas, wasmasjien, TV en 2 stoof gasplaat oondjie.

Daar kom ook nou en dan 'n ou tannie wat die gas in die woonstel kom check. Ek weet nie presies wat sy doen nie, want sy is Koreaans en ek is net 'n alien in die vreemde land.

Daar is geen stoof in my woonstel nie, maar ek dink dat ek binnekort een by 'n mede-onnie by my skool sal kan oorkoop. Hoera!!! Dan sal ek Landi se beroemde pampoentert kan bak!
My wasmasjien - die instruksies is alles in Koreans (surprise surprise). En dit gebruik slegs koue water:-(
My matras is egter so hard soos die vloer...byna. Dis 'n Koreaanse-ding omdat die Koreane gewoonlik op die vloer slaap is die matrasse nou ook redelik hard. Ek is stelselmatig besig om gewoond daaraan te raak.


My badkamer is ook letterlik net een kamer. Met ander woorde daar is geen afskortings nie - my vloer en toilet word met ander woorde elke dag gemop nadat ek gestort het!


Dit is 'n een-kamer woonstel met 'n klein balkon waar my wasmasjien, droograk (dis teen die dak en ek kan dit aftrek) en algemene "stoor area" is. 

My stortkop en my wasbak deel ook 'n kraan - ek vergeet gedurig om die kraan toe te draai so wanneer ek my tande wil borsel stort my rug. Hoeveel keer ek nou al my trui moes ophang is onskatbaar!!

My plakkies kruip hier onder by die deur wag. Ek stort nooit sonder plakkies nie - ek is bang vir Koreaanse ietermagoggas. 

My woonstel is bar soos ‘n plaas wat jarre laas reën gevoel of gesien het, maar my meubel-ekspedisie moet nog begin. My TV-kas is reeds ‘n vonds wat ek op die straat gevind het. Dit was uitgegooi vir rommel. “Ag nee wat” – ‘n boerin maak mos ‘n plan. Een boks vir ‘n stut later besit ek nou ‘n TV-kas.

Ek het ook 'n buurman wat gereeld daarvan hou om spontaan te begin sing in Koreaans. Of moet ek dit eerder skree noem? Ek kry hom terug deur kliphard my Jack Parow musiek te speel. Dit smoor hom gewoonlik na 'n tydjie. 









29 September 2011

En toe scam hulle my in my eie hartland

Laas week was ek in al die banke in Ulsan, want ek moes 'n globale ATM opspoor.

Bank #5 was die gelukkige wenner.

**dieng dieng dieng**

Ongelukkig wou my Mastercard debietkaart nie laas naweek werk nie.

Soos Koos Kombuis sou sê: “Toe sê die autobank vir my: Jy’t fokol geld”. 

Ai ook Koos, ons sou lekker kon soju-drink in my kombuis-kamer na die hele affêre.

Ek het volledig navorsing gedoen oor die voordele/nadele van die gebruik van my debietkaart voordat ek S-A verlaat het, maar was verstom dat dit nie verder wou werk nie.
Maandag 3 Oktober was 'n publieke vakansie dag in Korea gewees so ek moes toe tot Dinsdag wag om uit te vind hoekom my kaart nie wou werk nie.

Dinsdag was die vrou by die bank nie baie behulpsaam nie (wel - sy het in Koreaans gepraat en ek het in Engels verstaan) en ek het dadelik besluit om my ma in Suid-Afrika te kontak.

(It's a bird, it's a plane...no it's the Strauss family to the rescue).

Raai-raai wat het toe met my gebeur??

My kaart is gescam iewers in Suid-Afrika. Ek was woedend gewees toe ek dit uitvind!!!Ek is besig om ernstig vir OR Tambo te verdink en ek het reguit in daardie leeukuil ingestap.

Murphey jou belhamel!!!!

Watter lesse het ek hierdeur geleer wat julle moet toepas???? Moenie op Suid-Afrikaanse of op Afrika lughawe last-minute inkopies doen nie. MOENIE!

Gelukkig het my ma en Tobias sommer tjop-tjop (ai mis ek nie nou 'n Karoo tjoppie nie) 'n oplossing gekry.
Geld was vir my oorgedra via moneygram. Dit is 'n uistekende stelsel. Al wat jy benodig is jou paspoort en geduld, want dit neem 'n tydjie om die geld uit die bank uit te kry (afhangende van hulle Engelse vaardigheid), maar dit is die moeite werd.
Ek het heerlike sojaboon lekkertjies by die bankier gesuig terwyl ek vir hom gewag het om vir my die geld te gee. Dit was sy eerste werk gewees en toe wals hierdie Suid-Afrikaner by sy bank in en vra hom om vir haar geld te gee wat oorgeplaas is vanaf Suid-Afrika. Daar was later drie mense agter die toonbank wat gehelp het, maar ek het daar uitgestap met my won en 'n nuwe liefde vir sojaboon lekkergoed. 

Doha...it's been too long

Ek is uiteindelik op die vlug en al die passasiers gluur my aan omdat ek die laaste passasier is (ek probeer om geen direkte oogkontak te maak nie).



Die wittebrood-kappel is natuurlik die passasiers langsaan wie ek moet sit. Gelukkig het ek geskuif na 'n ander gang se sitplek met twee stoele oop tussen my en my mede-Amerikaner.
So ek het heerlik my bene gekruis en die asem gesoek wat ek êrens op OR Tambo verloor het. Ek het natuurlik myself in die coach badkamer met die Qatar-doekies en water gaan verfris - sienende dat ek soos 'n maraton atleet gelyk (en dalk geruik) het!



Ek kon lekker sit en flieks kyk tot my oë begin dink het dat die klein skerm groot word. Die vlug na Doha was doodnormaal en ek het gesmul aan die vliegtuig-kos. Die kos wat ek nie kon klaar eet nie het ek in my rugsak ingedruuuuuuuuuuk. 

Hierdie smeerkaas, beskuitjies en lurpak botter sou later baie handig kom waar ek honger en alleen tussen die vier mure van my nuwe woonstel sou sit.  

(a tip for all the hitch hikers out there - druk die oortollige ystertor-kos in jou sak, want later sal jy heerlik aan jou lurpak botter en wheatsworth koekies smul) 

28 September 2011

My binnelandse vlug oppad na die buiteland

Sondag 27 September was 'n warboel van emosies - opgewondenheid en onmeetbare vrees. Asook die dag van my ouers se huweliksherdenking. Geluk pa en ma!!!

Daar sit ek en my gesin toe in die Wimpy by Kaapstad Internasionale lughawe - 'n Wimpy koffie vir oulaas.

My maag het kolke gedraai en ek het probeer om die krane toe te draai, maar toe ek my gesin moes groet het die krane spontaan oopgespring en ek het lekker gehuil voordat die ystertor my opgepik het.
 
Op die binnelandse vlug oppad na Johannesburg, het ek by my piepklein venstertjie uitgetuur. Die Suid-Afrikaanse grondpaaie het soos duisendpote oor my hart gekruip, die landerye het ek vir oulaas met my vinger ingekleur en ek het saggies gehuil.

Dit het my hart deurmekaar gemaak dat ek al die bekende, die mooi en die lelik nou moes verruil vir die onbekende...


Op O.R.Tambo was dit 'n miernes van mense. By CNA het ek gestop en my bultende rugsak verder gevoer met 'n SARIE kos, SARIE en SARIE blokkieraaisel (ek lees nooit Saries nie, maar sy is 'n goeie vriendin in 'n vreemde plek).
Ek het ook tyd gemaak om 'n RWC2011 serp vir my rugsak te voer. (Nothing unites like the green and gold!)

Salig onbewus van die drama wat vir my wag.

Geen buitelandse trip is volmaak sonder 'n bietjie last-minute opwinding nie. So het ek toe amper my Qatar vlug na Doha verpas. Die simpel #(*%(* vrou by die boarding gate wou my nie toelaat nie omdat my aanlyn check-in nie die streepkode gehad het nie. Soos ek vroeër gesê het - salig onbewus.

So het ek myself sat gehardloop van Pontias na Pilatus. 'n Vriendelike Qatar personeellid (Ndobongo) en boarding-gate-wag het my te hulp gesnel na my herhaaldelike "Please help me" hulpkrete. 
Saam het ons drie deur die donker gange van OR Tambo gehardloop, oor barriers gespring, deur afskortings geklim, oor die sekuriteit gepaalspring totdat ek veilig die Qatar boarding gate gesien het, asook vlieënier Morne wat vir my gewag het. (bloos). Ek was sopnat gesweet en my knieë was sagter as low-cal jellie, maar ek was so verlig dat ek die vlug gehaal het.

Met al hierdie drama-drama-drama het ek dalk misluk om my Suid-Afrikaanse foon op 'roaming' te stel asook om ordentlik vir almal te groet via 'n selfoon rooksein. Verskoon dit, maar as julle my op daardie oomblik sou kon sien weet ek dat julle verstaan.

Die Qatar personeel het my so jammer gekry (hulle kon my voetstappe van ver af hoor aankom) dat hulle vir my verwelkom het met 'n groot beker water.