25 October 2011

28 days later

Die titel klink soos iets uit 'n AA kurses, maar dit is hoe ek party hier voel. Soos 'n recovering alcoholic.

Eerlikwaar kan ek nie se hoe ek nou hierdie stad of ervaring sal bestempel nie. Dit is maar 'n poespas van klomp goed.
Op hierdie oomblik vind ek nog net my voete - ek probeer op die regte bus te klim, nie te veel te verdwaal nie, te onthou om gereeld my hande te was (al die blootstelling tot publieke vatplekke en 40 kinders 'n dag....die kieme akkummuleer) en nie te hard probeer dink wat ek eet nie (dis party dae soms vreemd - oe toe en sluk).

My gemoed is 'n wipplank van op en af.

As die gemoedswipplank naby aan die grond hang voel ek asof ek nou op 'n ystertor se rug sal spring om terug te vlieg na die land van biltong, nasionale braaidag en sonskyn.
Die kwik is besig om vinnig hier te daal so die windjie is gevaarlik koud en skraal. Dit gee my 'n verskoning om te shop, maar of die lae genoeg sal wees teen die eina-koue is ek nie so doodseker oor nie...

Op hierdie oomblik rantsoeneer ek my SARIE blokkieraasiers en ek mis 'n Afrikaanse koerant se ink wat moedswillig aan my vingers vaskleef. Al wat huidiglik aan my vingers kleef is die penne en "board markers" waarmee ek daagliks in aanraking kom.

Terselfdertyd is ek besig om rond te snuffel vir 'n diploma of kurses wat my grysstof vinniger sal laat swem. As ek elke dag net Engels vir kinders moet leer sal ek 'n ernstige gemoedsbekakking kry en dalk regtig diep in die bottel staar.
Daarbenewens wil ek ook gefokus bly op my passie en waarin ek my loopbaan gaan loods.

Intussen - soos 'n Pixar mannetjie gese het - "If adventure's out there, I'll find it".

Ek wonder of dit beteken dat ek die 'vending machine' moet gaan aanrand...ek het klipharde Afrikaanse woorde met die kosrobot gewissel, maar sonder enige sukses.  

No comments: